'n Koelkop eenstopfasiliteit

Saturday, January 1, 2011

Die gesegde ’n boer maak ’n plan was nog nooit nader aan die waarheid as dit by Koelenhof Wynkelder kom nie. Dié koöperatiewe kelder het koelkop gebly tydens ekonomiese druk en is nou ’n diensteverskaffer van formaat.

Van filtrasie tot versnyding, stabilisasie tot die stoor van wyn – Koelenhof Wynkelder is deesdae ’n byekorf van bedrywighede en spog met kliënte soos Beyerskloof, Teddy Hall en Jasper Raats.

Reeds in 1941 is die behoefte uitgespreek onder omliggende boere om een kelder te stig wat hul druiwe kon verwerk. Vandag is hierdie lede aandeelhouers in die maatskappy en word hul druiwe steeds verwerk deur Martin Stevens wat die witwyn maak en Wilhelm de Vries wat pa staan vir die rooiwyn.

“Altesaam 14 000 ton druiwe word jaarliks in die koel kelder bewerk waarvan 11 miljoen liter wyn uiteindelik in bottels gesit word,” verduidelik Marike Heydenrych, bemarkingsbestuurder by Koelenhof. “Slegs die premium gedeelte van produksie word onder die Koelenhof- en Koelenbosch-handelsmerke gebotteleer en die grootste gedeelte wyn word steeds as stortmaatwyn bemark.”

As Best Value Wine Cellar aangewys deur Wine en verskeie medaljes by die Veritas Toekennings, Michelangelo, die Old Mutual Trophy Wine Show en ’n wyn onder die Absa Top 20 Pinotage, is dit ook nie sommer hierjy wyne wat in die bottel gesit word nie. En vir die duurste wyn onder R50 kan jy hier nogal ’n winskoop raakloop.

Die grootste gedeelte van hul diensportefeulje bestaan uit kontrak-wynmaakdienste, maar  ander dienste sluit in filtrasie, stabilisasie, versnyding, laboratoriumdienste en ’n stortmaatstoor. Omdat die dienste so gewild blyk te wees, is daar in 2003 uitgebrei na ’n vat- en bottelstoor toe ’n stoor van 3 600 m² aangebou is.

Dit was egter nie lank hierna toe daar weer eens ’n behoefte geïdentifiseer is aan ’n botteleringsaanleg nie. Die maatskappy-direkteure het vinnig gespring en aan die einde van 2008 het toerusting vanuit Italië gearriveer om vroeg in 2009 af te skop met produksie.

Vandag sluit die botteleringsdienste inlynverhitting van koue wyn tot optimale botteleringstemperatuur net voor bottelering in, asook filtrasie, bottelsterilisasie, bottelering, verskeie bottelsluitings, eksterne bottelwas, aanbring van kapsules, etikettering, kartonoprigting en -sluiting, kleefplastiek en sertifisering.

“Ons botteleringsaanleg het ook vroeg in 2010 ’n Graad A GSFS/BRC-sertifisering ontvang en onafhanklike toetse vanuit ’n buite laboratorium het getoon dat die botteleringsproses van die hoogste gehalte is,” spog Marike.

’n Verdere stoor van 2 400 m² is ook in 2010 aangebou en sommer dadelik in gebruik geneem. Tans kan 4 000 palette wyn, 2 000 kratte wyn en 1 600 vate gestoor word. Met hul ligging naby Stellenbosch, lê Koelenhof ook uitstekend geleë om skeepshouers met die hand of in palette te laai.

Meer as 50 privaat kliënte klop jaarliks aan Koelenhof se deur vir dienste en steeds kan hulle nie voorbly nie. “Ons sien onsself as ’n eenstopfasiliteit waar druiwe gelewer kan word, verwerk word tot wyn, die wyn verouder of gebotteleer word en as finale produk gestoor kan word vanwaar dit versprei word.”

Agter: Martin Dreyer (etikettering), Schalk du Toit (logistieke-/voorraadbestuurder).
Middel: Leon Uys (bottelering), Essie de Kock (droë voorraad), Hendrik le Roux (logistiek/voorraad).
Voor: Marike Heydenrych (bemarkingsbestuurder).

Agter: Erika van Zyl (laboratorium-assistent), Liezel Coetzee (laboratoriumbestuurder) en Wilhelm de Vries (wynmaker).
Voor: Martin Stevens (wynmaker) en Andrew de Vries (bestuurder) saam met Prince en Graça.

Teks en foto's Wanda Augustyn 
'n Koelkop eenstopfasiliteit 
WynLand
Januarie · 2011